Die wye verskeidenheid van onderwerpe beloof om die belangstelling te wek én te bevredig. Maak gereed vir enigiets van babelas tot teddiebere, pepermente tot wiskundige formules, en sokkerballe tot sifilis.
Benewens hierdie temas, ontbloot hy ook die verrassende kant van ’n hele paar vreemde karakters en beroemdes. Lees oor die Deense sterrekundige Tycho Brahe se bronsneus, die motorbouer André-Gustave Citroën se dobbelverslawing en die Nobelpryswenner Marie Curie se stormagtige sekslewe ná haar man se dood.
Professor Andreas van Wyk beskryf Stetoskoop 2 in sy voorwoord as ’n voortsetting van die ou tradisie van goeie Afrikaanse koerantrubrieke om ons leeswêreld en taal op ’n speelse wyse te verryk.